Mense kan verander, maar jy kan hulle nie verander nie.

Sjoe, hierdie stelling slaan my hard: mense kan verander maar jy kan hulle nie verander nie. Dis baie waar, en ook baie frustrerend.


Enige iemand met ‘n greintjie empatie en veral mense in ‘n beroep waar hulle mense help, kan getuig hiervan. ‘n Dokter kan pille voorskryf maar die pasient moet die pille drink. Jou man kan jou probeer oortuig dat jy nie na-ure en naweke moet werk nie want jou gesondheid lei daaronder, maar jy is die een wat 8 uur op ‘n Sondagoggend die laptop oopslaan. Ek kan sien dat iemand Reiki of trauma terapie nodig het, maar my hande is gebind totdat die persoon in my spreekkamer sit.


Maak nie saak hoe goed jou bedoelings, dat jy weet vir ‘n feit jy is reg, of hoeveel kennis jy ookal het oor ‘n onderwerp, jou advies gaan op dowe ore val as die ander persoon nie regtig wil verander nie.


Waarom wil mense nie verander nie? Al sien of voel hulle die situasie waarin hulle hulself nou bevind is ondraaglik en maak hulle ongelukkig? Dis tog logies dat jy dan iets anders moet doen as wat jy tot nou toe gedoen het, sodat dinge kan verander? Vir baie mense is dit ongelukkig nie so eenvoudig nie.


Hier is ‘n paar redes, in geen spesifieke volgorde, waarom iemand nie kan, of wil, verander nie.

  1. Sterk mense het nie probleme nie en ons vra nie vir hulp nie.” Om te verander beteken jy moet erken aan jouself, en partykeer aan ander ook, dat daar iets verkeerd is en moontlik ook dat jy weet nie weet hoe om dit te verander nie. Party mense sien dit as ‘n teken van swakheid as hy/sy nie altyd reg is of al die antwoorde het nie. Maar inderwaarheid is om te vra vir hulp en raad te aanvaar, ‘n teken van ‘n baie sterk persoon. Mans veral sukkel daarmee om hulp te aanvaar want hulle is groot gemaak om te dink ‘n man wys nie sy emosies nie en ‘n man moet altyd sterk wees. Ek sien dit veral in trauma terapie kliente. Dan verduidelik ek vir hulle dat net soos daar niks verkeerd is daarmee om ‘n bril te kry om jou beter te laat sien nie, is daar niks verkeerd daarmee om hulp te kry vir byvoorbeeld die terugflitse van ‘n traumatiese insident en die nagmerries nie. Dit verg verskriklik baie moed om te sê “ek het ‘n probleem, sal jy my help asseblief.” Genesing begin die oomblik wanneer jy vra vir hulp.
  2. Dis makliker om dit te ignoreer.” Solank as wat die probleem geignoreer word hoef mense nie verantwoordelikheid te neem om anders op te tree nie. As die dokter vir jou sê jy het suikersiekte is daar nie meer ‘n verskoning nie – jy moet jou dieet verander. Maar tot daar ‘n diagnose is kan jy aanhou suiker eet en kla oor die dors en moegheid.
  3. Dit is maar net wie ek is.” Wie is ek as ek nie altyd depressief is / die storie kan vertel van hoe my man op my verneuk het / nooit geld het nie / verlief raak op die verkeerde mans, nie? Met tyd kan mense hul identiteit begin bou rondom iets wat, vir die res van ons, ‘n lewensstyl of denkwyse is wat skade berokken.
  4. Ek leef nou al so lank hiermee saam dis net makliker om so aan te hou.” Dit is moontlik om in ‘n gemakzone van ongelukkigheid te verval. Dit klink teenstrydig maar enige denkwyse, maak nie saak hoe nadelig daardie denkpatroon is nie, kan die verstekinstelling word.

Onderliggend aan al hierdie redes hoekom mense nie wil verander nie, is vrees. Vrees dat mense minder van jou gaan dink, vrees dat jy nie die verandering kan maak wat almal van jou verwag nie, vrees omdat jy nou nie meer ‘n verskoning het vir jou optrede nie, vrees omdat jy moet verantwoordelikheid neem vir jouself en jou optrede.


Hoe help jy iemand wat nie gehelp wil word nie?

Jy kan hulle nie forseer nie. En selfs as jy dit reg kry dat jou geliefde die terapeut gaan sien of elke oggend hulle pille drink, sal dit ‘n kortstondige verandering wees. Maar noudat jy weet dat hulle eintlik bang is vir die verandering kan jy hulle probeer gerusstel en veilig laat voel met die idee van ‘n verandering maak.


Maar ook net tot op ‘n punt: moenie te veel van jouself en jou energie afstaan daaraan om iemand te probeer verander wat nie regtig wil verander nie. Elke persoon het vrye wil en almal is hier op aarde om hul eie lewenspad te stap en te groei in watter opsig ookal hulle nodig het om te groei. Jy kan regtig net doen wat jy kan en daarna moet jy dit oorlaat aan ‘n Hoër Mag. Want terwyl jy besig is om al jou energie te sit in gedagtes en emosies wat gefokus is daarop om ‘n ander persoon te probeer oorreed om hulp te kry, is daar minder energie vir jouself en jou welstand. Al is jou bedoelings hoe goed, om so te leef is ook nie goed vir jou gesondheid en welstand nie.


Dit is ook moontlik dat die rede hoekom jy jouself bevind in ‘n situasie waar iemand nie wil verander nie, is nie omdat hulle moet verandering, maar omdat jy moet. Miskien is daar iets in jou lewe wat jy nie wil verander nie al weet jy jy moet, want jy is bang. Deur aan te hou iemand anders probeer oorreed om te verander, hoef jy nie aan jouself te werk nie.


Dit kom alles weer terug na die wil om te verander. Konkrete, lang termyn verandering kan eerlikwaar net gebeur wanneer jy aan jouself erken dat iets verkeerd is. As jy nie, sal die lewe ‘n manier vind om jou aandag te kry en jou die les op die harde manier laat leer. Dis nie lekker nie om ‘n ernstige siekte te ontwikkel of in ‘n ongeluk te wees wat jou forseer om na jou gesondheid om te sien, as jy vir jare lank al die waarskuwings tekens van ‘n ongesonde leefstyl geignoreer het nie!


Om op te som

Niemand kan iemand anders forseer om te verander nie. Maar as ‘n verandering nodig is, sal dit wel gebeur. Jy kan dus ophou so hard probeer om iemand te verander. Hou net in gedagte dat hul weerstand teen verandering uit vrees spruit. Met daardie wete kan jy hulle moed inpraat en gerusstel en help om die vrees te oorkom. Maar jy sal ook op ‘n punt moet kom waar jy dit laat gaan en toelaat dat hulle self tot die bewuswording kom.

error: Content is protected !!
Scroll to Top