Reiki and religion

Godsdiens en Reiki

Ek wil graag bietjie uitbrei oor Godsdiens en Reiki, veral Christenskap en Reiki. Daar is ‘n wanindruk dat Reiki praktisyns, en mense wat Reiki behandelings ontvang, nie Godsdienstig is nie en selfs dat hulle hulself “oop maak vir die duiwel”. Niks kan verder van die waarheid wees nie.

 

Godsdiens kan vereenselwig word met Reiki want dit maak nie saak watter geloof jy is, of watter naam jy gee aan jou Skepper, want Reiki is nie ‘n geloofstelsel nie. Dit is ‘n vorm van energiegenesing sonder enige godsdienstige affiliasies.

 

Kan Christene Reiki kry?

Ja! Ek het byvoorbeeld Christen kliënte wat voor ‘n Reiki-behandeling bid dat God die behandeling en my hande moet seën sodat die wil van God gedoen kan word. Baie van my Reiki studente vertel my ook dat hulle gebid het en gevra het dat God hulle moet wys hoe hulle hul spirituele band met Hom kan versterk, en die antwoord was dan baie duidelik hulle moet ‘n Reiki kursus voltooi. 

 

Kom ek verduidelik verder: Reiki is ‘n Japanese woord wat vertaal kan word na Engels as “Divinely Guided Energy”. Reiki is ook die naam van die sisteem van energie genesing (net soos wat Akupuntuur verwys na die sisteem van energiegenesig deur die gebruik van dun naalde al langs die energie kanale, of Refleksologie verwys na die sisteem van energie genesing deur stimulasie van sekere punte onder die voete om die energie kanale oop te maak). Derdens is Reiki ook die tipe energie wat geabsorbeer word deur die persoon wat die behandeling ontvang.

 

Dis belangrik om te besef dat Reiki as ‘n sisteem en as ‘n energie, nie probeer God wees nie, maar inderwaarheid gelei en geinspireer word deur God (daarom die vertaling as Divinely Guided Energy). Dit is baie dieselfde as wanneer gemeentelede of kerkleiers hande oplê vir iemand. Net soos die gemeentelede of die kerkleier toelaat dat heilige energie deur hulle na die persoon gaan, tesame met ‘n diepe geloof en oortuiging dat die genesing besig is om plaas te vind, plaas ‘n Reiki praktisyn hulle hande op ‘n persoon se liggaam en laat toe dat die suiwer, liefdevolle, genesende krag vanaf ons Skepper na die persoon vloei. Jesus het mense op dieselfde manier gesond gemaak deur vir hulle hande op te lê wanneer hulle na Hom gekom het vir genesing.

 

Wat sê die Bybel oor energie genesing?

Hier volg voorbeelde vanuit die Bybel wat staaf dat daar mense is wat mag, kan, en inderdaad moet, help genees wanneer hulle gevra word, en dat daardie vermoë van God is:
1 Korintiers 12:28 “En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik.”
Jakobus 1:17 “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.”
Markus 16:17 – 18 “Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
Lees gerus ook meer oor hoe Godsdiens en Reiki saam gebruik kan word in die verhaal van Danielle Groth (‘n Reiki Meester) en Vicky Lovell (‘n Dominee) in Amerika wat saam werk om mense te bedien. Hulle gebruik gebed, teksverse uit die Bybel, klank vibrasies en Reiki gelykertyd en vul mekaar pragtig aan. Lees meer oor hulle hier.

 

Solank ons net help

As Godsdienstige mense is dit mos tog ons plig om mense te help genees, of dit nou fisiese of emosionele genesing is. Maar nie almal wat siek is, moedeloos voel, bekommernisse het of gefrustreerd is omdat hulle lewe net nie wil “reg kom”, is deel van ‘n kerk nie. Ons mag hulle nie oordeel daarvoor nie – wat ons wel kan doen is om hulle die geleentheid te bied om genesing en hoop te vind. Miskien is ‘n Reiki terapeut dan net die regte persoon om die man te help wat nie kans sien vir kerk toe gaan nie maar wie smag na fisiese, emotionele, verstandelike of spirituele hulp.

 

Die Reiki terapeut, die kerklid, die pastoor / dominee, en lede van die bybelstudie groepie het almal dieselfde Goddelike liefde vir hul medemens. Dis maar net die naam van die tegniek wat ons gebruik om die genesing en hoop teweeg te bring, wat verskil.

 

Op die ou einde doen ons almal God se werk.

 

(Hierdie artikel is ook beskikbaar in Engels. Lees dit hier.)

1 thought on “Godsdiens en Reiki”

  1. Pingback: Religion and Reiki – Reiki Master Teacher and Practitioner | Natasja King

Comments are closed.

error: Content is protected !!
Scroll to Top